Laparoskopiese KI Riglyne

Wat behels Laparoskopiese KI?


Wat behels Laparoskopiese KI?

Dit is ’n proses wat slegs deur bekwame veeartse uitgevoer kan word. Deur middel van ’n laparoskoop kan ons die ooi direk in die uterus insemineer. Die proses geskied meestal op die boer se plaas en ons kan tot 500 ooie per veearts per dag insemineer.

Hoe werk die program?

Sodra jou datum bespreek is, stuur ons al die hormone sowel as ’n program en inligtingstuk vir jou aan. Die tipiese program lyk as volg: Dag 0 Plaas CIDR’s in ooie; Dag 14 ontrek CIDR’s en spuit PMSG; Dag 15 word ooie vanaf middag uitgehonger; Dag 16 Laparoskopiese KI. Daar is spesifieke tye waarop alle prosedures uitgevoer moet word.

Hoekom sinkroniseer ons die ooie?

Die ooie word op ’n vaste tyd insemineer, daarom moet hulle gesinkroniseer word om op ’n toepaslike tyd te ovuleer sodat bevrugting kan plaasvind. Die PMSG waarmee hulle gepuit word tydens CIDR-ontrekking veroorsaak dat ooie nader aan ’n spesifieke tyd ovuleer. Dit is noodsaaklik om goeie resultate te verseker.

Watter ooie is geskik vir Laparoskopie?

Die beste ooie is reeds goeie produseerders wat gereeld lam. Ideaal gesproke is hulle lammers 4-6 weke voor die program begin reeds gespeen. Jong ooie wat nog nie by die ram was nie moet reeds deur meer as een hitte siklus wees voor die program begin word. Ooie moet in goeie kondisie wees, besig om gewig op te tel voor die program begin om goeie resultate te verseker.

Watter resultate kan ek verwag?

Die belangrikste faktor is die ooie se kondisie voor en na KI, goeie kwaliteit saad asook bestuur van die ooie na KI. Met gevriesde saad kan jy 50%-70% dragtigheid verwag en met goeie vars saad 60%-90%.

Hoe kan koggel ramme die proses verbeter?

1 Koggelram tot 50 ooie kan help om die tydperk waarin die ooie ovuleer nog meer te verkort.

Kontak Ons
Navrae